BENEDIKTUS XVI

BENEDIKTUS XVI (1927–). Josef Rat­zinger is op 16 April 1927 in Markl-am-Inn in Duitsland gebore. Heel aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog* is hy opgeroep as dienspligtige in ’n lugafweer-leëreenheid, maar het nooit tot die geveg toegetree nie. In 1951 is hy tot priester*2 gewy en het in 1953 in die teologie* gepromoveer, wat hy aan verskeie universiteite gedoseer het.

Al was hy slegs vyf en dertig, het hy as teologiese konsultant by Vaticanum II* opgetree. In 1977 het pous Paulus VI hom as aartsbiskop van München en Friesing, en later as kardinaal*, benoem. Pous Johannes Paulus II het hom in 1981 aangestel as pre­fek van die Kongregasie vir die Geloofsleer, wat toesig moet hou oor die suiwerheid van wat teoloë en ander verkondig. Hy was terselfdertyd president van die Pouslike Bybelse Kommissie en die Pouslike Interna­sionale Teologiese Kommissie.

Toe hy op 19 April 2005 as pous* verkies is, het hy die naam “Benediktus” aangeneem, omdat pous Benediktus XV probeer het om vrede te maak ten tye van die Eerste Wêreldoorlog*, en die nuwe pous wou as vredemaker intree, veral op godsdienstige gebied. Hy het ook Benediktus van Nursia (480–547)* in gedagte gehad, beskermheilige van Europa, omdat sy prioriteit die herkerstening van daardie vasteland was.

Benediktus XVI het in 2013 die eerste pous in etlike eeue geword wat geabdikeer het. Ouderdom en die feit dat hy nie meer wêreldreise kon onderneem nie, is as redes vir dié onverwagse besluit aangevoer. Woelinge in die Katolieke Kerk, onder meer oor die skandaal van priesters wat kinders in hulle sorg gemolesteer het, kon ook ’n rol in sy besluit gespeel het. Hy het, nadat pous Franciskus* as sy opvolger aangewys is, as emeritus-pous in die Vatikaanstad bly woon.

Vir verdere lees: M Bunson 2005. We Have a Pope! Benedict XVI. Huntington: Our Sunday Visitor.

 

Sidebar