BERGREDE

BERGREDE. In Matt 5–7 verduidelik Jesus* aan sy volgelinge die andersoortige lewenstyl wat in sy koninkryk* geld. Mat­teus* wou dit by sy Joodse lesers tuisbring dat Jesus se openbaring die status van Moses* se ontvangs van die Tien Gebooie* by die Sinai*2 het.

Dit begin met die seënspreuke, wat ’n verrassende ommekeer aankondig oor waar “geluk” vandaan kom. God se goedheid is hiervoor deurslaggewend en nie die mens se godsdienstige dade nie. Die Berg­rede bevat verder oproepe om die Here se koninkryk* sigbaar te maak, vra ’n totaal nuwe gesindheid waarmee godsdiensdade gedoen moet word, nooi ons om God te vertrou en bekommernisvry te lewe, gee ’n samevatting van God se wil (Kyk by: Goue reël) en waarsku ons om regte lewens­keuses te maak.

Let op Jesus se positiewe hantering van die tora*. So word ’n nuwe verstaan van God se wil oor ses lewensaspekte gegee wat met die sesde, sewende en negende gebod asook met die liefdesgebod ooreenkom (Matt 5:21-48). Die dieper bedoeling van die wet oortref die tradisionele verstaan daarvan. God vra méér as uiterlike gehoorsaamheid.

Die hoogtepunt van Jesus se opdragte is die liefdeseis teenoor vyande. Die Esseense* gemeenskap het geleer: “Wees lief vir die seuns van die lig, maar haat die seuns van die duisternis.” Jesus, daarenteen, vra dat vyande in die verhouding tussen die bidder en die genadige God ingetrek word.

Die etiese ingesteldheid van Joodse groepe is deur die gedagte van beloning gedomineer. Hoewel Jesus soms die taal van beloning in aansluiting by sy tyd praat (Matt 5:12), verskil Hy ten diepste daarvan. God beloon nie menslike prestasie nie, maar is getrou in sy verlossing. Die motief by Christus is nie God se later beloning nie, maar dankbaarheid oor God se reeds teenwoordige goedheid.

Vir verdere lees: Coenie Burger 1989. Vreemde geluk. Kaapstad: Lux Verbi. Johan Cilliers 1990. Meer as mossies. Kaapstad: Lux Verbi.

Sidebar