BERKHOF, HENDRIKUS

BERKHOF, HENDRIKUS (1914–1995) was een van die bekendste Ne­der­landse teoloë en ekumeniese* figure van die 20ste eeu. Ná sy aanvanklike teologiese oplei­ding aan die Ste­de­li­ke Universiteit van Amsterdam en in Leiden, stu­deer hy vanaf 1937 teologie in Berlyn. As gevolg van sy kritiek op die nasionaal-sosialisme*, moes hy Duitsland spoedig verlaat. Sy denke is in daardie jare sterk beïnvloed deur die teologie van Noordmans* en Barth*. Hy word in 1938 predikant* van die Nederlandse Her­vorm­de Kerk in Lemele en later ook in Zeist. Hy promoveer in 1939 met ’n proefskrif oor Eusebius* van Sesarea. In 1945 word hy dosent en later rektor aan die teologiese seminarium in Driebergen, en in 1960 kerklike hoogleraar in dogmatiek* en Bybelse teologie* aan die Universiteit van Leiden tot met sy emeritaat in 1981. In hier­die jare het hy ’n belang­rike rol gespeel in die werksaamhede van die Wêreldraad van Kerke*. Van sy belang­rikste publikasies is Geschiedenis der kerk (1942), De Kerk en de Keizer (1946), Crisis der middenorthodoxie (1952), Christus en de zin van de geschiedenis (1958), De leer van de Heilige Geest (1964), en sy magnum opus Chris­telijk ge­loof (1973), wat as standaardwerk aan talle teologiese fakulteite voorgeskryf is. In sy teologie het hy veral nadruk gelê op die werk van Christus* en die werk van die Heilige Gees*, asook op die ervaring wat die evangelie* meebring in die vernuwing van die verbondsgemeenskap, die mens en die wêreld.

Sidebar