BERKOUWER, GERRIT CORNELIS

BERKOUWER, GERRIT CORNELIS (1903–1996) het homself onderskei as een van die leidende gerefor­meerde* dogmatici van die 20ste eeu. In 1932 promoveer hy aan die Vrije Univer­siteit* van Amsterdam onder prof Valentijn Hepp met ’n proefskrif oor Geloof en openbaring in de nieuwere Duitse theologie. Hy dien as predikant* in die Geref­ormeerde Kerken in Ou­de­horne en later in Wa­tergraafsmeer. In 1945 word hy hoogleraar in die dogmatologiese vak­ke (Kyk by: Dogmatiek) aan die Vrije Uni­versiteit* van Amsterdam. By sy aftrede in 1973 het daar reeds 46 teoloë onder hom gepromo­veer, onder meer verskeie Suid-Afrikaners. Sy vroeër­e teologie kan as orto­doks*-gereformeerd* beskou word, waarin hy sterk krities ge­staan het teen­oor on­der andere die Skrif­be­skouing* van Karl Barth* en die Kato­lieke* teologie. Sedert die 1970’s was daar egter ’n groter openheid, maar steeds met behoud van ’n goeie gereformeerde inslag. Eku­meniese* waarde­ring vir hom blyk on­der meer daaruit dat hy deur die pous* ge­nooi is om as Prote­stantse* waarnemer die Tweede Vatikaan­se Konsilie (1962–1965) (Kyk by: Vatikaanse Konsilies) by te woon. Berkou­wer het talle boeke en vakwetenskaplike artikels gekryf. Sy Dogmatische Studiën (18 dele) is as standaardwerke in die veld van die dogma­tiek be­skou. Van meer populêre aard was sy gereelde rubrieke in die Gereformeerd Week­­blad en in die dagblad Trouw.

 

Sidebar