BERNARDUS VAN CLAIRVAUX

BERNARDUS VAN CLAIRVAUX (1090–1153) is in Fontaines, Frankryk, gebore in ’n adellike familie. Vroeg in sy lewe tree hy toe tot die Cistersiese klooster* van Citeaux. Hy was skaars 25 jaar oud toe hy gevra is om die klooster van Clairvaux op die been te bring – ’n klooster wat hy as ab* gou tot die middelpunt van die Cistersiese orde opgebou het.

Bernardus is veral vir die volgende be­kend: Eerstens het hy van die pous* erkenning vir die Orde van die Tempelridders gekry (1128) en self hulle reëlboek opgestel. Tweedens het hy die skolastiek sterk teengestaan, en meegedoen aan die skolastikus Abelardus* se veroordeling (1140). Der­dens het hy namens die pous ten gunste van die Tweede Kruistog gepreek (1146–1147) en was bitter teleur­gesteld omdat hierdie kruistog* misluk het.

In die 18 jaar tus­sen 1135 en 1153 het Bernar­dus 86 preke oor Hoog­lied* vir die broe­ders van Clair­vaux gelewer. Vir hom handel Hoog­lied oor God se liefde vir die ge­­lowige. Hier­die pre­ke is in Latyn op­ge­teken (Ser­mo­nes su­per Cantica Canti­co­rum), en is merkwaardige letterkundige werke.

Andrew Murray *2 het sy pastorie op Wellington van 1892 af ook Clairvaux (wat “helder uitsig” bete­ken) genoem. Dié naam het hom aan die uitsig vanaf die kasteel van Bernar­dus van Clairvaux in Frankryk herinner. Mur­ray het die mees­te van sy skryfwerk op die stoep met sy noordaansig en pragtige uitsig gedoen.

Bernardus is twintig jaar ná sy dood in 1174 gekanoniseer* (heilig verklaar).

 

Sidebar