BERNICE

BERNICE (28–79 nC) is die dogter van koning Herodes*2 Agrippa I, en die oudste suster van Mariamne, Drusilla* en Herodes*3 Agrippa II. Sy was bekend vir haar skoonheid en trou verskeie kere, onder andere met haar oom, Herodes van Chalkis, na wie se dood sy op twintigjarige leeftyd wedu­wee word. Sy gaan bly toe by haar broer Herodes Agrippa II, wat haar man as koning opvolg. Haar verhouding met haar broer verwek egter opspraak, waarna sy met koning Polemon van Silisië trou. Hierdie huwelik is kortstondig, sodat Bernice weer na haar broer terugkeer om vervolgens die beleefdheidspligte van ’n koningin waar te neem: om gaste te ontvang en besoeke af te lê. In dié hoedanigheid het sy goewerneur Festus* by sy ampsaanvaarding in Sesarea* verwelkom en Paulus* se verdediging aangehoor (Hand 25:13, 23; 26:30).

 

Sidebar