BEROU

BEROU. In die Ou Testament* lees ons dikwels dat God berou gehad het, bv in Gen 6:6. Dit is ’n menslike stelwyse wat die Bybel*skrywers gebruik het om oor God te praat. Ware menslike berou is veel meer as net om spyt te wees, alhoewel dieselfde Griekse* woord in die Nuwe Testament vir beide gebruik kan word (metamelomai = berou hê, spyt wees; van gedagte verander). Spyt het dikwels net te doen met die konsekwensies van ’n daad (2 Kor 7:8; Matt 21:29). Berou gaan dieper en raak ook die wese van ’n mens se bestaan. Berou dink nie net aan wat jy gedoen het nie, maar ook hoekom jy die soort mens is wat gedoen het wat jy gedoen het (Matt 27:3 – die 1933/1953-Afikaanse Vertaling is hier waarskynlik meer korrek), of wat al weer gedoen het wat jy eintlik nie wou nie. Ware berou raak nie net die verhouding met mense nie, maar spesifiek die verhouding met God en gaan gepaard met skuldbely­denis* (Jak 5:16), ’n verandering van jou denke (Heb 7:21), en ’n begeerte om jou te bekeer* en jou lewenswyse te verander (Matt 21:31-32). Daarom lei berou eerder tot ’n terugtrekking in die binnekamer en ootmoed voor God as op uiterlike vertoon, maar soek dan wel ook restitusie (“teruggee van iets wat ontneem is; skuldvergoeding” – HAT, 2005) met mense (Matt 18:15-17).

 

Sidebar