BESNYDENIS

BESNYDENIS. Vorms van besnydenis het lank vóór Abraham* in verskillende kulture voorgekom, maar nie by Israel* se bure nie; veral die Filistyne* word as “onbesnedenes” beskryf. Vir Israel is besnydenis as teken van die verbond* in Gen 17 ingestel. Alle mans, ook nie-Abraham-afstammelinge wat as volwassenes deel van die verbondsvolk word, is besny, en daarna alle seuntjies op agt dae. Tradisioneel is die voorhuid met ’n klipmes besny. Die Ou Testament* verwys met uitsondering na hierdie praktyk. Deuteronomium* en die profete* praat van ’n “besnede hart” as simbool van gehoorsaamheid aan God. Besnydenis as teken van Joodse* nasionalisme was teen die tyd van die Nuwe Testament* sterk, soos van­dag ook nog. Jesus* is ook besny. In die vroeg-Christelike gemeenskap is die vraag of Christene* uit die nie-Jodedom eers be­sny moet word om deel van die gemeente* te word, op die spits gedryf. Hand 15 vertel hoe die saak besleg is. In aansluiting by die profetiese tradisie, beskou Paulus* besnydenis as sodanig as betekenisloos – dit is die simbool van geregtigheid wat in geloof ontvang word en in gehoorsaamheid tot uitdrukking kom, ja, van die “nuwe mens” self (Gal 6:15).

Vir verdere lees: R de Vaux 1974. Ancient Israel – Its life and Institutions. New York: McGraw Hill.

Sidebar