BET-EL

BET-EL beteken “huis/tempel (bêt) van God (el)”. In die Ou Testament* verwys dit na ’n pleknaam (geografiese aanduiding) en moontlik ook na die naam van ’n godheid (Jer 48:13). Dit is ook bekend dat daar in die Aramese* nedersetting van Elefantine in Egipte* (5–4de eeu vC) ’n god met die naam “Bet-El” aanbid is.

Bet-El is egter meer bekend as pleknaam. Die bekendste was in die heuwellande noord van Jeru­salem*. Daar was onder andere ’n belangrike heiligdom. Die strategiese belang van Bet-El was daarin geleë dat dit ’n belangrike grensdorp was: dit lê tussen die heuwels van Efraim* in die noorde en die plato van Juda* in die suide. Daarna word verwys in die tyd van Abraham* (Gen 12:8) en Jakob* (Gen 28). Ook Samuel* het hierdie dorp dikwels besoek toe hy Israel* gerig het (1 Sam 7:16). Toe die Verenigde Koninkryk van Dawid* in die tyd van Jerobeam*1 I in twee verdeel is, het Jerobeam I hier ’n goue kalf opgerig om te dien as teenvoeter vir die tempel in Jerusalem (1 Kon 12:29-33). In die tyd van Hosea* (10:15) en Amos* (3:14) het daar allerlei afgodiese praktyke in Bet-El plaasgevind.

Sidebar