BETANIË

BETANIË. Sommige gee die betekenis van Betanië aan as “plek van rye dadels”, ander as “huis van ellende”. Daar is twee plekke met hierdie naam:

  1. ‑Die meer bekende Betanië is so ongeveer 3-4 km oos van Jerusalem* geleë. Jesus* het blykbaar dikwels hier twee huise be­soek: 1. dié van Simon*5, die melaatse, waar Jesus deur ’n vrou gesalf is as ’n voor­spel tot sy kruisdood; 2. dié van Maria*5 , Marta* en Lasarus*2, waar Jesus blykbaar gereeld ’n gas was en waar die dramatiese opwekking van Lasarus plaasgevind het, ook bedoel as ’n voorspel tot sy eie opstanding*. Die Olyfberg, waarvandaan Jesus se hemelvaart* plaasgevind het, was daar naby. Histories dateer die plek moontlik uit die tyd van Nehemia* (11:32) toe dit bekend gestaan het as Anánja. In die na-Nuwe-Testa­men­tiese periode is ’n kerk bo-oor die graf van Lasarus gebou en het die plek se naam verander na die huidige Lazariëh.
  2. ‑Daar is ’n ander Betanië, geleë oorkant die Jordaan*. Dit sou ook moontlik ’n ander vorm van die naam, Bet-Ainon, kan wees. Blykbaar het Jesus ook hier ge­werk, alhoewel dit hoofsaaklik die gebied was waar Johannes*1 die Doper opgetree het.
Sidebar