BEUKES, DAVID PETRUS MATTHYS (DAWIE)

BEUKES, DAVID PETRUS MATTHYS (DAWIE) (1915–1981) is in die distrik Winburg gebore, behaal sy BA in Bloem­fontein en ontvang sy teologiese opleiding op Stellenbosch. Hy blink uit as studenteleier. In Pretoria-Wes begin hy in 1940 sy bedie­ning as hulpprediker. Daarna volg die NG gemeentes* Molteno, Cradock, Cra­dock-Oos, Linden en Lindenpark. Hy het as moderator* van die Suid-Transvaalse sinode* gedien, en was in 1974 die moderator van die Algemene Sinode. In moeilike kerklike gesprekke met die Nederlandse Gerefor­meerde Kerken en die NG Kerkfamilie, het Beukes minsaam dog beslis gebly. Die beleid­stuk, Ras, volk en nasie en volkereverhoudings in die lig van die Skrif, wat in 1974 onder Beukes se voorsitterskap deur die Algemene Sinode aanvaar is en in daardie stadium die standpunt van die NG Kerk* oor rassesake weerspieël het, het egter nie die empasse waarin die NG Kerk met apart­heid* beland het, deurbreek nie. Hy het ook in die Raad van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit gedien en was as kultuurman ses jaar lank voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK). Ná meer as 40 jaar in die bediening, het hy sy emeritaat (eervolle ontslag as predikant* vanweë ouderdom) in 1981 aanvaar, ’n paar maande voor sy dood.

Sidebar