BEVRYDINGSTEOLOGIE

BEVRYDINGSTEOLOGIE het in 1968 beslag gekry by die konferensie van Katolieke* biskoppe in Medellin, Colombia. Hierdie benadering wil teologie* beoefen uit die perspektief van die armes en in solidariteit met die stryd van armes, noodlydendes en verontregtes. Dit verkondig God se partydigheid vir die arme en veronregte. In veral sy vroeëre fases is die metodiek van bevrydingsteologie bepaal deur marxistiese* en neo-marxistiese sosiale anali­ses. In terme hiervan word heersers- of onderdruk­kersklasse geskei van on­derdrukte en verontregte groepe. Die kerk* behoort haar volgens bevrydingsteoloë met die onderdruktes te identifiseer. Die interpretasie van die Bybel* en die Christelike tradisie, eie­tydse teologiese beskouings, asook politieke, ekonomiese en sosiale beleid, word gemeet aan die impak wat dit het op die welsyn van die gemarginaliseerdes in die samelewing. Bevrydingsteologie se sentrale vraag is: Wie se belang word gedien deur ’n bepaalde interpretasie, be­sluit of stellingname? Die agenda en meto­diek van die bevrydingsteologie het in ver­skeie wêrelddele, onder andere in Suid-Afrika, groot invloed uitgeoefen. In die konteks van die dominansie van die globale marke­konomie, is bevrydingsteologie besig om sy klasgebaseerde metodiek te herde­finieer. Solank armoede* heers en die kloof tussen ryk en arm in dieselfde land en tussen noordelike en suidelike lande steeds groei, is daar egter nie twyfel nie dat die agenda van bevrydingsteologie so aktueel en onafgehandel is soos tevore. Bekende bevrydingsteoloë is onder andere Gustavo Gutierrez*, José Miguez-Bonino*, Leonardo Boff, Rubem Alves, Jose Miranda en Jean Luis Segundo. (Kyk ook: Las Casas, Barto­lomé de.)

Sidebar