BEZA, THEODORUS

BEZA, THEODORUS (1519–1605). Af­koms­tig uit Boergondië, studeer hy regte te Orleans met die oog op ’n kerklike loopbaan, maar rig hom in humanistiese gees veral op die klassieke tale. In 1548 sweer hy die Katolieke* geloof af en word daarna hoogleraar in Grieks* te Lausanne. In 1554 verdedig hy die verbranding van Servet*. Met die oprigting van die Akademie van Genève in 1559 aanvaar hy daar ’n professoraat. Ná die dood van Calvyn* in 1564 word Beza sy opvolger. Al het hy ’n versoenende geaardheid gehad, was hy volkome toegewy aan dieselfde ideale as Calvyn. As leier van Genève het hy aan die Franse Pro­testante* op talle terreine hulp, leiding en advies gegee. Uit sy pen het ’n groot aantal publikasies verskyn waaronder die beryming van heelwat psalms en verskeie uitgawes van die Griekse Nuwe Testament* met sy eie Latynse vertaling aan­ge­heg. In 1562 ontdek hy die Codex Bezae te Lyon. Sy teologie*, soos weergegee in die Trac­ta­tiones Theologicae (1570–1582), was deurspek met die gees van Calvyn en was streng de­terministies (Determinisme: Noodwendigheidsleer – HAT, 2005) van aard. An­ders as Calvyn, het hy die leer van die uitverkiesing* onder die Godsleer en die skepping geplaas wat vir die latere Calvinisme* nie noodwendig goeie vrugte opgelewer het nie.

Sidebar