BHENGU, NICHOLAS BHEKINKOSI HEPWORTH

BHENGU, NICHOLAS BHEKINKOSI HEPWORTH (1890–1985) was gedurende die vorige eeu een van die invloedryke swart kerkleiers in Suid-Afrika wat diep spore in ons land én in die buiteland getrap het. Hy was ’n leiersfiguur in die Assemblies of God*. In die 1950’s het Bhengu ’n baie effektiewe organisasie, The Back to God Crusade, op die been gebring wat in Suid-Afrika, Lesotho, Swaziland, Zimbabwe en Botswana evangelisasie*veldtogte gehou het. In die VSA, Kanada, Brittanje, Noorweë en Swede het Bhengu groot gehore getrek. Gedurende 1974 en 1975 het hy as besoekende professor lesings aangebied aan Selly Oak Colleges, Birming­ham. As jong Zoeloe* met bitter min akademiese opleiding, het Bhengu in sy jong dae daarin geslaag om as gesondheids­inspekteur en later as hoftolk in Natal aangestel te word. In 1929 het hy werk in Kimberley aanvaar, waar hy onder die bediening van twee Amerikaanse evangeliste wat aan die Assemblies of God behoort het, tot bekering* gekom en met ’n eie be­diening begin het. Bhengu was een van die mees effektiewe predikers van sy tyd wat met sy profetiese getuienis, sy besondere leierskapstyl en sy lewenslange ondersteuning van die plek wat vroue en jongmense in die kerk moet inneem, as rolmodel vir baie gedien het.

Sidebar