BIBLISISME

BIBLISISME. ’n Letterlike en direkte toe­passing van die Bybel, sonder inagneming van die konteks waarin die betrokke Skrifgedeelte ontstaan het, staan bekend as biblisisme. Selfs die basiese gereformeerde* stelreël vir Skrifuitleg, naamlik dat die Skrif sy eie verklaarder is – dat moeiliker Skrif­gedeeltes in die lig van ander Skrifgedeeltes wat oor dieselfde saak handel, verklaar moet word – word verontagsaam. Daar­teenoor is die korrekte uitgangspunt dat dit voor alles noodsaaklik is om vas te stel wat die oorspronklike bedoeling van die eerste skrywer baie eeue gelede was. Eers wanneer dít duidelik is, kan eietydse gestalte daaraan gegee word. In sy mees konse­kwente vorm staan die biblisisme bekend as fundamentalisme*. Tipies van ’n fundamentalistiese Skrifuitleg is die verontag­saming van die konteks in sy volle omvang, soos die skrywer, die tyd van ontstaan, die kulturele omstandighede wat destyds ge­geld het en die betrokke literatuursoort. Dik­wels word selfs die vertaalde weergawe van die Bybel (Afrikaans, Engels, ens) heeltemal letterlik opgeneem, sonder dat daar gevra word na ’n deeglike eksegese* uit die grondtale. Dit is ook merkwaardig dat daar in hierdie benadering ’n voorkeur is vir grondtekste van betreklik laat datering, teenoor ouer tekste wat met die beste wetenskaplik-verantwoorde meto­des vasgestel is. Die onfeilbaarheid van die Skrif word in effek tot feilloosheid (foutloosheid) gemaak – dikwels selfs van die vertaalde weergawes.

(Kyk ook: Bybelse geloof; Bybelse norme; Bybelvertalingmetodiek; Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgebruik in die etiek; Skrifuitleg.)

 

Sidebar