BID (GEBED)

BID (GEBED). Offerande* en gebed was in die Bybelse tye onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Die Israeliete* het daag­liks op gereelde tye gebid – soggens, smiddae, saans. Gebed is om te vra, te soek (Dan 2:23; 6:11). Die aanroep van die Naam* van die Here* in gebed word die eerste keer in Gen 4:26 vermeld. Die manlike Israeliete moes drie keer per jaar voor die aangesig van die Here verskyn: op die Paasfees (Pasga*), die Oesfees en die Huttefees (Feeste*) (Eks 23:14 en volgende verse; 34:18 en volgende verse; Deut 16:1 en volgende verse). Geen vaste voor­skrifte vir ’n spesifieke gebedshouding het in die Bybelse tye bestaan nie. Gebede is staande, knielend of in ’n uitgestrekte hou­ding op die grond gedoen. Die modelgebed wat die Here Jesus* self aan ons gegee het, is in Matt 6:9-13 opgeteken.

Ons kan vir liggaamlike en geestelike en alle ander behoeftes bid. Vas* en gebed gaan in die Bybel* dikwels gepaard met mekaar. Gebed het in die tyd van die Bybel in die openbaar en ook in privaatheid plaas­gevind. In die gebed gaan dit ten diepste oor ’n verhouding met die lewende God. Gebed het te doen met lofprysing*, aanbidding*, danksegging (Kyk by: Dankbaarheid), skuldbelydenis*, voorbidding. Gereformeerdes* beklemtoon dit dat alleen in die Naam van Christus* gebid mag word, nie in die naam van engele* of heiliges of mense nie (Heidelbergse Kategis­mus*, Vraag 71). Gebed is die intieme kommunikasie van die gelowige met die lewen­de God.

Vir verdere lees: Willem Nicol. 2004. Ge­bed van die hart. Wellington: Lux Verbi.BM. Bennie Mostert 1999. Verander jou wêreld deur gebed. Vanderbijlpark: Carpe Diem-Boeke.

Sidebar