BIDUUR

BIDUUR veronderstel ’n vasgestelde tyd wat deur gelowiges saam in gebed deurgebring word. So ’n gebedstyd kan in die gemeente*, selgroep of kleingroep op ’n meer of minder formele manier gehou word. In die Ou* en Nuwe* Testament word slegs na gebed, bede, bid, vra, versoek ens verwys en nie na vasgestelde, gereelde gemeentelike bidure as sodanig nie. Die gelowige Jode* het daaglikse gebedstye onderhou – bv by sons­opkoms, namiddag en met sonsondergang. In Handelinge* word verskeie geleenthede gemeld waar die gelowiges byeen was vir gebed (Hand 2:42; 12:5). In Katolieke* kloosters* het van vroeg af vaste gebedstye bestaan. Sewe gebedstye per dag het die kloosterlewe gereguleer. Later is sulke gebedstye ook in die Katolieke kerke onderhou. Calvyn* het die huisgodsdiens* (waarvan gebed ’n noodsaaklike deel was) vir gesinne beklemtoon. Bidure het in die Protestantse* kerke veral deur die toedoen van John Wesley* posgevat. Hy het gereelde, daaglikse persoonlike gebedstye beklemtoon, asook gemeentelike gebedsbyeen­komste. Hy het sy volgelinge gevra om Sondagaande ’n ekstra diens by te woon waar klem gelê is op vrye gebed. ’n Spesiale tyd vir gebed het sodoen­de in die Metodiste Kerk* en ander kerke ’n vaste plek ingeneem. In gereformeerde* kerke in Suid-Afrika, soos die NG Kerkfa­milie*, het gereelde weeklikse bidure – dikwels op ’n Woensdagaand – lank ’n staanplek gehad, maar dit word selde nog op dieselfde manier as vroeër jare gehou. Variasies bestaan nog voort. (Kyk ook: Pinksterbidure.)

Vir verdere lees: AC Barnard 1981. Die Erediens. Pretoria: NGKB.

Sidebar