BIEG

BIEG is die woord in die volksmond vir wat amptelik bekend staan as “die sakrament* van boetvaardigheid” of die “sakrament van versoening” in die Katolieke Kerk* en die Ortodokse Kerk, waar dit be­skou word as een van sewe sakramente. Dit word ook deur sommige Anglikane* erken.

Gedurende sy lewe op aarde, het Jesus* self sondes* vergewe*. Ná sy opstanding* het Hy die mag om sondes te vergewe volgens hierdie kerke aan sy kerk op aarde toe­vertrou in die persone van die apostels* (Joh 20:22-33). Dié het hierdie mag deurgegee aan hulle opvolgers, die biskoppe*. Met verloop van tyd het die biskoppe die sakramentele mag ook met priesters* gedeel. Aanvanklik het ’n mens wat swaar gesondig het, sy sondes aan die biskop gebieg. Die biskop het gewoonlik vir hom of haar ’n taamlike strawwe boete opgelê waaraan oor ’n sekere tydperk uitvoering gegee moes word, voordat hy/sy in ’n gemeenskaplike versoeningsdiens vergifnis (Kyk by: Vergewing) ontvang het. Van ongeveer 600 nC af het, onder die invloed van monnike* in die oos­te­like deel van die Middellandse See, die hui­dige vorm van private boetedoening beslag gekry.

Tans bestaan “die sakrament van boetvaardigheid” in die Katolieke Kerk uit die volgende stappe. 1. Die biegeling ondersoek sy/haar gewete, verkieslik in die lig van die Skrif*. 2. Hy of sy kom voor die priester*2 en beken die spesifieke sondes waarvan hy of sy bewus is en dui aan hoe dikwels dit gebeur het. 3. Indien nodig, ondervra die priester die persoon verder, en gee geestelike raad. 4. As die priester daarvan oortuig is dat die sondaar berou oor die misdrywe het, lê hy ’n boete op, spreek die formule van vergifnis uit en seën hom/haar. Daarna bid hy vir die biegeling. Wat ’n priester in die bieg hoor, mag hy onder geen omstandighede openbaar maak nie, al moet hy swaar vir sy stilswye boet.

 

Sidebar