BINGLE, PIETER WIL­LEM

BINGLE, PIETER WIL­LEM (1938–) kom uit ’n gesiene familie in die Ge­re­formeerde Kerke* in SA (GKSA). Hy het sy BA, ThB (met lof), ThM (met lof) en doktorsgraad in die teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO)* behaal. Sy proefskrif het gehandel oor Die betekenis van die eskatologie vir die prediking. Hy was predikant in die GKSA se gemeentes Carolina, Waterval-Boven, Pretoria-Wes en, van 1973 tot 2006, Kaap­stad. Hy was ’n wegbereider in die GKSA – bv oor die vrou in die kerklike ampte – maar het in dié verband ook te­leurstellings beleef. Hy het op 20 September 1989 die diens in Pretoria waargeneem toe FW de Klerk* as staatspresident ingehuldig is, en het ook etlike jare in die Raad van die destydse PU vir CHO gedien. In Kaapse en nasionale kultuurkringe het Bingle belang­rike werk gedoen en die FAK se nasionale prestige-toekenning vir kultuur in 2002 ontvang. Bingle het doelgerig brûe tussen die Afrikaanse susterkerke help bou, bygedra om die GKSA in townships by Kaapstad wortel te laat skiet, en ’n invloedryke pastorale rol vervul tydens De Klerk se presidentskap in kritieke oorgangsjare in Suid-Afrika. Hy is die samesteller van ‘n omvattende boek oor die sg “donkies” wat jare lank as NG Kerk*-sendelinge aan die destydse Sendinginstituut in Wellington opgelei is: Naamdraers van Jesus – Wellington se donkies. Oortrapklippe 1 en 2 is van sy ander publikasies.

Sidebar