BIO-ETIEK

BIO-ETIEK. Wetenskaplike en tegnologiese vordering het veral gedurende die laat-1960’s talle nuwe mediese moontlikhede geskep wat allerlei etiese vrae opgeroep het. So het ’n nuwe tak van etiek* ontstaan wat aanvanklik “mediese etiek” genoem is, of ook “biomediese etiek” en uiteindelik bio-etiek. Tans is dit ’n sterk interdissiplinêre vak wat kliniese, navor­sings- of toegepaste etiek kan wees en steeds wyer uitkring om ook institusionele faktore (hospitale, mediese fondse, ens) en sosiaal-politieke faktore (die aard van staatsvoorsiening en wetgewing, verde­ling van skaars bronne, ens) in te sluit.

Sentraal staan die belangrike vraag na die status van menslike lewe en dit word tans oor ’n baie breë veld bespreek. Rondom die ontstaan van menslike lewe gaan dit onder andere oor genetiese mani­pulasie, kunsmatige inseminasie, in vitro-fertilisasie, surrogaatmoederskap, skenkersaad, embriobevriesing, -vernietiging, of -aanneming, eksperimentering met em­brio’s, aborsie*, geboortedefekte, prenatale diagnose, behandeling en chirurgie en cloning*. Rondom bestaande lewe gaan dit onder andere oor orgaanoorplanting*, vrye en ingeligte toestemming, eksperimente­ring, farmaseutiese pligte en verantwoordelikhede, reseptering, sperm- en eiersel­sken­k­ing, voorkomende sorg en leefstyl, hi­giëne, voorsiening van skoon water en kos. Rondom die einde van lewe gaan dit onder andere oor genadedood*, die sg lewende testament, besluite oor orgaan­skenking, die doodsdefinisie, terminale sorg, menswaardigheid en die reg tot finale beslissing deur die familie.

In hierdie vak is die mensbeskouing wat geld van sentrale betekenis. Bio-etiese stand­punte hang ten nouste daarmee saam. Die Christelike* standpunt behoort uit te gaan van God as die Skepper, Eienaar en Onderhouer van alle lewe, en van die mens as geskep na die beeld van God (Kyk by:Beeld van God). Dit beteken dat die mens nie God mag speel met menslike lewe nie en deurgaans moet handel met onvoorwaardelike respek vir God se beeld. Die huwelik* bly die enigste oord vir menslike voortplanting, en God alleen het die reg om lewe te beëindig. Binne hierdie grense van skroom en respek vir God en lewe, kan die gelowige dan ook dankbaar talle van die wonderlike nuwe moontlikhede van die wetenskap (wat ook ’n gawe van God is) aanvaar en benut.

 

Sidebar