BISKOP

BISKOP. In die beskouing van die Kato­lieke*, Anglikaanse* en Grieks-Ortodokse* kerke is die biskoppe die opvolgers in gesag van die twaalf apostels*. Die apostels was die spesiale uitverkore getuies van die Here* se opstanding* en hulle is dus, volgens hierdie kerke, vir ewig die fondament van die kerk – die Nuwe Israel*6 (Hand 1;22-26; Op 21:14). Dié hoedanigheid kan nie aan ander mense oorgedra word nie. Maar in die Vroeë Kerk* het ander mans ook in die herderskap van die apostels gedeel. Die Skrif beskryf die charisma van die apostels (1 Kor 12:28); Paulus* is ook ’n apostel genoem (Rom 11:13); en, bo en behalwe die twaalf, was daar ook ander apostels (1 Kor 12:28). Dit is ook duidelik dat die gesag/mag van die apostels met die oplê van hande met ander mense gedeel is (2 Tim 1:6). In die Nuwe Testament* is dié mans om die beurt episcopoi (biskoppe) en presbyteroi (priesters) genoem (Hand 20:17; 1 Tim 4:14), maar teen die begin van die 2de eeu nC is die woord “biskop” net vir die leier van ’n plaaslike kerk gebruik. In die Grieks-Ortodokse en Katolieke kerke moet die biskop selibaat* wees. In die Katolieke Kerk stel die pous* die biskoppe aan, terwyl die hoof van die katedraal of ’n vergadering spesiaal vir dié doel aangewys, dit in die Anglikaanse en Grieks-Ortodokse kerke doen. Biskoppe kan net deur ander biskoppe georden word en net hulle kan priesters inwy. Die tradisionele simbole van die biskop is die troon in die katedraal (cathedra), die mitre (biskopsmus), die crozier (pastorale staf), die pektorale kruis en die ring. Hierdie voorwerpe is simbolies van die biskop as hoof-herder.

 

Sidebar