BLIGNAULT, AUDREY BETTIE

BLIGNAULT, AUDREY BETTIE (1916–????) is op Bre­das­dorp gebore. Sy werk as tydskrifredakteur (Die Huis­vrou) en radio-omroe­per. Sy begin in 1950 met ’n rubriek in Sarie (Marais). Dit was joernalistiek oor die wêreld van die vrou, ’n verslag-met-’n-vertolking waarin haar grondliggende lewenshouding en -beskouing uiting vind. Die jubeltoon, die vreugdevolle aanvaarding en die skaterlag het die toonaard van die verslag bepaal. Die Bybel* is kennelik ’n inspirasiebron. Sy gebruik graag stylpatrone en segswyses van Bybelse oorsprong. Sy versamel die beste van haar essays tussen 1955 en 1979 in tien bundels. Vier bloemlesings word ook saamgestel. Met ligter tred ontvang in 1965 die WA Hofmeyr-prys. In 1968 verskyn haar aangrypende Om die son te aanskou ná die dood van haar eerste man. In hierdie werk doen sy verslag oor haar geloofsworsteling uit die diep donkerte van wanhoop en vertwyfeling ná ’n groot verlies tot, uiteindelik, vastigheid, sekerheid, berusting en geloofs­verdieping. Deur Blignault se aanvoeling van die woord en die spel met die taal is sy, volgens die literator JC Kannemeyer, ’n waardige opvolger van CJ Langenhoven*. In 1993 het sy in Die eindelose avontuur vertel van haar leeservarings en van die groot werke van die Wes-Europese literatuur en daarmee ’n uitstekende gids vir haar lesers geword.

Sidebar