BLINDES, INSTITUUT VIR

BLINDES, INSTITUUT VIR. Kort nadat die Skool vir Dowes op Worcester geopen is, het daar ’n blinde leerder opgedaag, en daarna het nog blinde kinders gevolg. In 1905 is die twee afdelings, dié vir dowe leerders en dié vir blindes, geskei in twee skole of institute. Onmiddellik ná die skeiding is die braille-stelsel ingevoer as skrif­medium, en sedertdien het die Instituut vir Blindes ’n leier geword in die ontwikkeling en bevordering van die braille-stelsel in Suid-Afrika. Daar is later ’n drukkery gevestig om leermateriaal en ander lektuur in braille te druk. Een van die groot projekte van die drukkery was om die Afrikaanse Bybel* in braille te druk. Die hele Bybel is in 44 braille-boekdele uitgegee.

Daar is spoedig besef dat ’n verlengstuk van die skool nodig sou wees om vir volwasse blinde persone werkgeleenthede te skep. Die eerste werkwinkel waar ambagte aangeleer en beoefen kon word, is in 1933 geopen en vandag nog is die rottangwerk, weefwerk en matrasse van die instituut landswyd bekend. Ander ambagte soos metaalwerk en klavierstem het weldra gevolg. Daar is bygebly met die tegnologie-ontwikkeling, en opleiding in rekenaarvaardigheid en as telefoonoperateurs is vandag deel van die pakket. In 1994 het die instituut met ’n unieke program begin, naamlik die versorging van meervoudige gestremde persone. Die instituut het ook ’n program om aan afgetrede persone huisvesting en versorging te bied.

Vir verdere lees: JJ De Klerk (red) 1990. Die Diens van Barmhartigheid en die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Kaap­stad: NGKU.

Sidebar