BLOED VAN CHRISTUS

BLOED VAN CHRISTUS. Die Bybel* assosieer bloed met lewe (Lev 17:11) en bloedvergieting met gewelddadige sterwe. Die spesifieke vermelding van bloed in die uitdrukking “bloed van Christus” beklemtoon die harde werklikheid van Jesus* Christus* se dood* en verbind sy sterwe met die Ou-Testamentiese offer*, waar die vergieting van offerdiere se bloed reiniging van sonde* meebring (Lev 16–17). Jesus se bekerwoord by die instelling van die nagmaal*: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond* beseël word en wat vir baie mense vergiet word” (Mark 14:24) verseker sy volgelinge dat Hy sy lewe as ’n versoeningsoffer (Kyk by: Versoening) in hulle plek aflê. Die soenoffermotief tree besonder treffend in Rom 3:25-26 na vore, waar Jesus se sterwe met die sprinkeling van die offerbloed op die versoendeksel van die ark*2 verbind word. Die ryk bemoediging van Jesus se offerdood word veral in Hebreërs* sterk uitgebou: sy bloed reinig volkome en vir altyd (Heb 9:11–10:18). Die eerste Johannesbrief* sluit hierby aan (1 Joh 1:6-10). In die Bybelse verwysings na die bloed van Christus gaan dit nooit oor ’n soort magiese krag in die bloed nie, maar om die heilsbetekenis van Jesus se dood. Dieselfde geld ook van ons nagmaal*viering.

Sidebar