BOBOLA, ANDRZEJ (ANDREW)

BOBOLA, ANDRZEJ (ANDREW) (1591–1657) is in ’n adellike familie in Pole gebore. In 1611 het hy by die Jesuïete* aangesluit en op verskeie plekke as raadgewer en prediker gewerk. Van 1652 af het hy op verskillende plekke sendingwerk gedoen, onder meer in Polock en Pinsk (beide tans in Belarus).

In 1657 het die Kosakke hom gevang en uiters wreed en stadig gemartel, deur onder meer sy neus af te sny, splinters onder sy naels in te druk en hom brandwonde toe te dien. Uiteindelik is hy aan sy wonde dood.

In 1701 het vader Martin Godebski, die rektor van Pinsk, ’n visioen van Bobola gehad. Dit het hom aangespoor om na Bobola se liggaam te soek. Toe hy dit kry, het dit nog glad nie begin ontbind nie. In 1719 is die kis amptelik oopgemaak en die liggaam deur vyf dokters ondersoek, wat gevind het dat die liggaam nog nie begin ontbind het nie. In 1922 is die liggaam na Moskou geneem waar dit uitgestal is, en in 1924 is dit na die Vatikaanstad*. Sedert 1938 is dit in Warskou. In 1938 is Bobola gekanoniseer* en tot heilige verklaar.

 

Sidebar