BOEDDHISME

BOEDDHISME is die vierde grootste godsdiens in die wêreld. Volgens oorlewe­ring gaan dit terug na Siddjarta Gautama, ’n Indiese prins wat tussen 563 en 483 vC sou geleef het en op die ouderdom van 29 jaar ’n lewe van gemak verruil het vir dié van ’n swerwende, soekende askeet (Kyk by: Askese; Asketisme). Toe hy 35 was, het hy insig in “waarheid” gekry ná ’n uitmergelende meditasiesessie. Hierna heet hy “Boed­dha”, oftewel die Verligte.

Die insig waartoe hy gekom het, is dat die laaste (of transendente) werklikheid wat die oënskynlike werklikheid of bestaan ten grondslag lê, “leeg” is. Dit kom nogal ooreen met die Christelike leerstuk dat alles wat bestaan (uitgesonder God) uit niks geskep is. Boeddha het egter geoordeel dat ook die goddelikheid in laaste instansie leeg is. Die mens, aangevuur deur oorlewingsdrang en ander menslike behoeftes, pro­beer ’n lewe leef wat reëlreg teen dié fundamentele waarheid ingaan. Simbole van “permanensie” (geboue, instellings, net­werke van mag en belange en so meer) word opgerig. Alles is egter blootgestel aan erosie en aftakeling. Instandhouding daarvan bring mee dat die mens die grootste deel van sy of haar lewe in ’n sinnelose slawerny deurbring. Eers wanneer die mens die Groot Leegheid as laaste tuiskoms (nirvana*) aanvaar het, open die moontlikheid van vrede en ’n sinvolle bestaan. Boeddha het ’n stel lewensreëls uitgestippel vir ’n betekenisvolle lewe.

Die vier heilige waarhede wat Siddjarta Gautama ontdek het – en aan sy volgelinge deurgegee het – is die volgende: 1. Die hele lewe bestaan uit lyding. 2. Die oorsaak van die lyding is die ingebore lewensdrang van elke mens, wat veroorsaak dat die mens weer en weer gebore word. 3. As die mens daarin kan slaag om sy lewensdrang te dood, kan die sirkelgang van lyding verbreek word. 4. Die manier waarop die lewensdrang gedood word, is deur op die heilige agt­voudige pad te stap.

Die agtvoudige pad, die pad na verlos­sing, bestaan uit die volgende elemente: 1. Die regte siening (’n mens moet die Boeddhistiese leer verstaan). 2. Die regte voorneme (’n mens moet vry wees van begeerte, veral om ander kwaad aan te doen). 3. Die regte spreke (geen leuentaal of kwaadwillige woorde nie). 4. Die regte gedrag handhaaf (’n mens mag nie doodmaak, steel of jou aan seksuele wangedrag skuldig maak nie). 5. Die regte lewensonderhoud (veral mag jy nie ’n beroep beoefen wat die doodmaak van mense of diere behels nie). 6. Die regte inspanning (jy moet jou gees dissiplineer en skool). 7. Die regte aandag (om die werklike lewensprosesse te verstaan en te ervaar). 8. Die regte konsentrasie (om jou gees te kalmeer, om sodoende tot ware diepe insig te kom).

Aanduidings is dat Boeddha sy idees aanvanklik slegs bedoel het as lewensfilosofie en lewenswyse. Geleidelik het dit egter ’n nuwe godsdiens geword, veral toe hy begin het met die stig van asketiese gemeenskappe. Boeddha se dood word as die belangrikste moment van sy geskiedenis beskou, omdat hy daarmee nirvana sou binnegegaan het. Dit word ook as die begin van die Boeddhistiese kalender gesien.

Nagenoeg 7% van die wêreldbevolking is Boeddhiste – sowat 479 miljoen, waarvan meer as 166 miljoen in China woon (Operation World, 2010).

PJ van der Merwe

Sidebar