BOEK VAN DIE TWAALF

BOEK VAN DIE TWAALF is die bena­ming vir die twaalf profetiese boeke in die Ou Testament* wat van Hosea* af tot by Maleagi* strek. Daar word op verskillende maniere na hierdie boeke verwys: Klein(er) Profete, Laaste Profete of Boek/Boekrol van die Twaalf. Met die benaming “Boek van die Twaalf” erken geleerdes dat hierdie boeke as ’n eenheid gelees moet word en dat dit vergelyk kan word met die ander profeteboeke soos Jesaja* en Jeremia*. Die vroegste verwysing na die Twaalf as ’n eenheid kry ’n mens reeds in Sirag 49:10 (2de eeu vC). By Qumran* is ontdek dat die Twaalf op ’n enkele boekrol neergeskryf is.

Historiese agtergrond: Die Twaalf dek verskeie eeue in die geskiedenis van die volk Israel*4, vanaf die 8ste tot die 4de eeu vC. Sommige van die vroegste sowel as laaste voorbeelde van profetiese literatuur kom hierin voor (vanaf Amos* en Hosea* tot Maleagi* en Sagaria* 9–14). Dit was ’n tyd van internasionale onrus waarin die Assiriese*, Babiloniese*, en Persiese* ryke ’n prominente rol gespeel het. Die lewe in beide Israel en Juda*4 is drasties beïnvloed deur buitelandse politieke aktiwiteite. Geeneen van die “groot” profete kan met die historiese omvang van die Twaalf vergelyk word nie.

Volgorde van boeke: Die 1983-Afri­kaanse vertaling kom ooreen met die Hebreeuse kanon se volgorde van die Twaalf. Daar is egter ’n verskil by die Griekse vertaling (Septua­ginta*) se volgorde van die eerste ses boeke (Hosea; Amos; Miga; Joël*; Obadja*; Jona*). Die redes vir die spesifieke rangskikking van die boeke is onseker. Navorsers het probeer om verskillende beginsels agter die rangskikking te ontdek: kronologie, taal (trefwoorde) of teologiese inhoud. Die be­ginsel van kronologiese rangskikking bied ongelukkig nie ’n verklaring vir die huidige orde van boeke nie. Daar bestaan ook ’n moontlikheid dat die vier hoofstukke van Maleagi geskei is van Sag 9–14 om spesifiek ’n twaalfde boek te vorm.

Navorsingsgeskiedenis: Vir die grootste gedeelte van die 19de en 20ste eeu het ge­leerdes die Twaalf “kleiner” profete as twaalf indiwiduele boeke gelees. Eers in die laaste jare het sommige geleerdes begin argumenteer dat die Boek van die Twaalf as ’n enkele teologiese versameling gelees moet word. Onlangse navorsing bied genoeg getuienis dat die Twaalf ’n reeks redaksies ondergaan het wat gekulmineer het in ’n versameling van profetiese stemme.

Teologiese kenmerke: Daar was veral drie invloede wat ’n rol gespeel het in die teologie van die redakteur/e wat die Twaalf saamgestel het: Deute­ronomistiese* invloed, kultiese invloed en die teologie van die boek Joël*. Die “dag van die Here*” kan as sentrale tema van die Twaalf beskou word. Al die boeke – behalwe Nahum* en Jona – verwys direk hierna. Nahum verwys wel na die komende God­delike oordeel. Daar kom verskeie verwy­sings na die toekoms voor en die outeurs reken dat die toekoms beter sal wees as hulle hede. Die temas van sonde*, straf* en herstel speel ook ’n belangrike rol en sommige geleerdes reken dat die Twaalf onder hierdie drie temas tuisgebring kan word.

Vir verdere lees: DL Petersen 2002. The Prophetic Literature: An Introduction. Louisville: Westminster John Knox Press. PL Redditt en A Schart (red) 2003. Thematic Threads in the Book of the Twelve. Berlin: Walter de Gruyter.

 

 

Sidebar