BOHREN, RUDOLF

BOHREN, RUDOLF (1920–2010) het as jong seun diep onder die indruk gekom van die prediking van Walter Lüthi, ’n bekende Switserse prediker, en homself op jeugdige ouderdom in Basel aangemeld vir teologiese studie. Hier studeer hy onder andere onder Karl Barth* en Oscar Cullmann*. Sy doktorale proefskrif het oor die funksie van kerklike tug* gehandel, en kort daarna word hy as dosent in praktiese teologie* aangestel. Verskeie boeke en artikels vloei uit sy pen, asook digbundels. Vir laasgenoemde ontvang hy verskeie literêre pryse in Switser­land. Sy belangrikste werk, getiteld Predig­t­lehre (Preekleer), maak groot indruk en word binne drie maande ná verskyning uitverkoop. Talle herdrukke verskyn. Die unieke van hierdie boek lê onder andere in die poëtiese aanslag daarvan, die gebruikmaking van nie-teologiese literatuur, asook die ontwikkeling van ’n preekleer gebaseer op die pneumatologie*. Bohren word gesien as die belangrikste praktiese teoloog van die 1980’s en 1990’s. Hy word ook be­skou as die stigter van die eerste internasionale homiletiese vereniging, Societas Ho­mile­tica, nadat hy die aanvoorwerk daarvoor in Heidelberg, Duitsland, gedoen het. Sy eerste vrou het op tragiese wyse aan selfdood gesterf, wat gelei het tot die publikasie van ’n aangrypende preekbundel, getiteld Tröstungen (Vertroostinge).

 

Sidebar