BONHOEFFER, DIETRICH

BONHOEFFER, DIETRICH (1906–1945), is een van die bekendste kampvegters teen nasionaal-sosialisme*, die Duitse Nazïsme*. Hy studeer teologie* in Tübingen en voltooi sy doktorale proefskrif, Sanctorum Com­munio, op 24-jarige leeftyd aan die Uni­versiteit van Berlyn, waar hy ná die skryf van Akt und Sein sy intreerede as jongste privaatdosent in 1930 lewer. Hierna studeer hy ’n jaar lank aan die Union Theological Seminary (VSA), en loop twee weke klas by Karl Barth* in Bonn voor sy terugkeer na Berlyn in 1931. Hy is studenteleraar en sluit as jeugsekretaris aan by die nuut gestigte Wêreldbond van Kerke.

Bonhoeffer het die ellende van die Eerste Wêreldoorlog* deurleef en baie gedoen om aan werklose jongmense hoop te gee. Dit was dieselfde teelaarde vir die opkoms van nasionaal-sosialisme wat in 1933 onder leiding van Adolf Hitler* in Duitsland oorgeneem het. Christene wat Hitler* se rigting gesteun het, word die Duitse Christene-be­weging genoem. Die Jode* is as “probleem” beskou omdat hulle, volgens die Nazi-ideologie, as parasiete op ander nasionale volksgemeenskappe geteer het. Jode is ná die sogenaamde Kris­tallnacht* na konsentrasiekampe weg­ge­voer en na raming is ses miljoen in gaskamers en op ander maniere om die lewe gebring.

In 1934 het verskeie teoloë byeengekom om die Belydende Beweging te begin. Hulle het die beroemde Barmen-verklaring* aanvaar waarin Jesus* Christus* as enigste Here* bely word – in teenstelling met die Nazis wat dié belydenis al hoe meer ondermyn het.

Bonhoeffer het in 1935 leraar aan die Belydende Kerk se seminarie te Finken­walde geword. Hierdie seminarie was on­wettig, is in 1937 deur die Gestapo gesluit, en Bonhoeffer self is vanaf 1938 verbied om in die openbaar oor godsdienstige sake te praat.

Om hom te beskerm, nooi vriende hom na die VSA. Hy keer egter kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog* terug na Duitsland, oortuig daarvan dat hy dáár nodig is. Dit word algemeen aanvaar dat hy medewerker was aan ’n mislukte komplot om Hitler om die lewe te bring, hoewel Nation, Siegrist en Umbel dit in hulle boek wat in 2013 verskyn het, bevraagteken. Bonhoeffer is in April 1943 in hegtenis geneem en is op 9 April 1945, ’n week voor Hitler se selfmoord, weens vermeende hoogverraad in Flossenbürg gehang.

In sy fragmentariese werk, waarvan dele postuum uitgegee is, staan voorop: Die kerk is die oord waar Christus konkreet as ge­meente bestaan. Navolging van Christus soos in die Bergrede* beskryf, word deur goed­koop genade ongedaan gemaak (Nachfolge, 1937). Teologie het die taak om die evangelie “nie-religieus” te vertolk; en elke ge­slag het die taak om te vra: Wie is Jesus Christus vir ons vandag? (Widerstand und Ergebung, 1944).

Sy denke het ’n onmiskenbare rol in die belydende beweging gespeel en, al was dit jare ná sy dood, in die teologiese stryd teen apartheid* in Suid-Afrika.

Vir verdere lees: Carla Barnhill (red) 2005. Year with Dietrich Bonhoeffer. San Francisco: Harper. Internasionale Dietrich Bonhoeffer-vereniging: www.dbonhoeffer.org Eric Metaxas 2010. Bonhoeffer. Pastor, Martyr, Prophet, Spy. Nashville: Thomas Nelson. Mark Thiessen Nation, Anthony G Siegrist en Daniel P Umbel 2013. Bonhoeffer the Assassin? Challenging the Myth, Recovering His Call to Peacemaking. Grand Rapids: BakerAcademic.

 

Sidebar