BONIFASIUS, WINFRETH

BONIFASIUS, WINFRETH (672?–753) was sendeling* in Sentraal-Europa, en word beskou as die mees suksesvolle sendeling tydens die Middeleeue, en as die “Apostel van die Duitsers”. Hy is in Engeland in ’n adellike familie gebore en het as jongman by die Adescancastre-klooster aangesluit. Bonifasius was besorg oor die ongekerstende inwoners van die vasteland, en het van 716 af verskeie sendingreise daarheen onderneem. In 717 is hy deur pous Grego­rius II as biskop* van die Duitse Kerk ingehuldig. Bonifasius het veral in Duitsland gewerk asook onder die Friese in Neder­land. Hy het die klooster op Fulda gestig en uiteindelik aartsbiskop van Mainz geword. In 753 het hy in Friesland as martelaar gesterf.

Bonifasius was ’n ywerige en dapper sen­deling. Op ’n dag het hy ’n groep Duit­sers by Geismar bymekaargebring waar hy voor hulle oë Thor, die Dondergod, se heilige akkerboom afgekap het. Duisende mense het hulle hierna bekeer*en laat doop*. Hy het ook die konsep van kloosters* in Duitsland ingedra en moeite gedoen om plaaslike Christene as monnike* op te lei en om vroue as sendelinge te gebruik. Hy was tot die einde lojaal aan die Katolieke Kerk* en het daarom dikwels gebots met meer liberale Franse en Keltiese sendelinge.

Vir verdere lees: Ruth A Tucker 1983. From Jerusalem to Irian Jaya. Grand Rapids: Zondervan.

Sidebar