BONS-STORM, MARIA (RIET)

BONS-STORM, MARIA (RIET) (1933–), ’n Nederlandse teoloog, doktoreer in 1957 aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam in die psigologie (Kyk by: Sielkunde). Tydens ’n verblyf van 11 jaar in Indonesië, word sy as gevolg van ’n tekort aan toegeruste dosente genader om lesings in pastoraat (Kyk by: Pastorale Sorg) te gee. Vanaf 1962–1972 doseer sy pastorale psigologie aan teologie­se skole daar (Abepura en Tomohon). Haar belangstelling in die teologie* word in dié tyd geprikkel en sy onderneem uitgebreide selfstudie op hierdie terrein, in so ’n mate dat sy by haar terugkeer in Nederland, ná enkele aanvullende kursusse, toegelaat word om in te skryf vir ’n doktoraal in praktiese teologie. Sy promoveer in 1984 aan die Vrije Universiteit onder toesig van Jaap Firet* met ’n proefskrif in pastoraat. Sy doseer aan die teologiese skool van Kampen, die Ryks­universiteit van Utrecht en vanaf 1982 tot haar emeritaat in 1998 aan die Ryksuni­versiteit van Groningen. Sy tree dikwels as gasdosent in die buiteland op, in 2001 ook aan die Universiteit van Pretoria.

In haar meer as vyftig publikasies in boeke en tydskrifte fokus sy op gemeentebou*, die metodologie van die praktiese teologie en in die besonder op pastoraat. Bons-Storm verduidelik pastoraat as ’n pro­ses/avontuur wat tussen twee herme­neu­tiese sirkels (Kyk by: Hermeneutiek) afspeel. Eiesoortighede wat haar werk kenmerk, is dat sy in haar besinning oor pastoraat uitvoerig luister na vroue-/feministiese* stemme, en haar voorts uitspreek teen die professionalise­ring van die pastoraat; sy  beskou die gemeente* as die primêre kring waar sorg verleen word.

Vir verdere lees: R Bons-Storm 1989. Hoe gaat het met jou? Pastoraat als komen tot verstaan. Kampen: Kok. R Bons-Storm 1992. Pastoraat als bondgenootschap: Aanzet tot vernieuwing van de kerkelijke praktijk van­uit het vrouwenpastoraat. Kampen: Kok. R Bons-Storm 1996. The incredible woman: Listening to women’s silences in pastoral care and counseling. Nashville: Abingdon.

^^^ ^^^1

Sidebar