BOODSKAPPER, DIE

BOODSKAPPER, DIE is die amptelike blad van die Afrikaanse Protestantse Kerk*, maar die blad is ouer as die kerkverband. Die eerste “uitgawe” het in Februarie 1987 verskyn om beswaarde lidmate in te lig oor die 1986-besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk* in verband met kerk en samelewing. Onder andere is berig oor pogings om die alge­mene sinodale kommissie van die NG Kerk deur die weg van onderhandeling tot ander insigte te beweeg. Vier uitgawes het op dié wyse vóór kerkstigting in Junie 1987 verskyn. Die vyfde uitgawe kom in Augus­tus 1987 as ’n publikasie van die Afrikaanse Pro­testantse Kerk. Die eerste uitgawes hierna het veral leiding gegee oor gemeente­stigting en die noodsaaklike administra­tie­we reëlings in verband daarmee.

Met die loop van jare het Die Bood­skap­per tot ’n volwaardige kerklike blad uitgegroei wat Skrifoordenkings, gemeentenuus en artikels en berigte oor kerklik-godsdienstige gebeure bevat. Omdat die jong kerk hom moes posisioneer téénoor die gang van kerklike gebeure in Suid-Afrika, het die blad, veral aanvanklik, ’n sterk kritiese inslag gehad.

Die blad strewe daarna om goed-gefundeerde artikels uit ’n suiwer gerefor­meer­de* en uitgesproke volksgetroue stand­punt te plaas, hoewel hy sy kritiese oog vir die gebeure van die dag behou het.

Sidebar