BOOM VAN DIE LEWE

BOOM VAN DIE LEWE. Die voorstel­ling van ’n boom of struik wat die geheim van onsterflikheid bevat, kom wydverspreid in antieke kulture van die Nabye-Ooste voor. Bybel*skrywers benader dit op ’n eiesoortige manier, afhangende van die oogmerk van ’n bepaalde verhaal of teks. In Spreuke* funksioneer dit as simbool van die seën wat ’n wyse en regverdige lewenswandel inhou (Spr 3:13-18). In die verhaal van Gen 2–3 staan die boom van die lewe (saam met die boom van kennis*) in die middel van die tuin (Gen 2:9). Dit funksioneer egter eers teen die einde van die verhaal wanneer die mensepaar uit die tuin verdryf en die toegang tot die boom versper en bewaak word (Gen 3:22-24). Die bedoeling is duidelik: die eerste mense (en in hulle al hulle nakomelinge) het die lewe verbeur en in vervreemding van die ware Lewensbron, die prooi van die dood geword. Danksy Jesus* Christus* is die heerskappy van die dood egter gebreek en staan die mens se toekoms in die teken van genade*, vryspraak en lewe (vgl Rom 5:12-21). Johannes sien geopende poorte wat opnuut vrye toegang bied tot die boom van die lewe (Op 21:25; 22:14). In beeldspraak wat van ’n vreemde oorvloed getuig, lewer die boom elke máánd sy vrugte (Op 22:2). Die lewe in God se nuwe teenwoordigheid (Op 21:3-4) is méér as dié wat in Eden verbeur is.

Vir verdere lees: WH Gispen 1966. Schepping en paradijs. Kampen: Kok. A van Selms 1973. Genesis, Deel I. Nijkerk: Cal­lenbach.                            JPduT Furstenberg

Sidebar