BOOM VAN KENNIS VAN GOED EN KWAAD / BOOM VAN ALLE KENNIS

BOOM VAN KENNIS VAN GOED EN KWAAD / BOOM VAN ALLE KENNIS. Hierdie boom met die interessante naam staan saam met die boom van die lewe* in die middel van die tuin waarvan ons in Gen 2:9 lees. Die betekenis hiervan is dat nét God in volkome sin oor alle kennis beskik. In sy aanslag spits die verleier hom juis hierop toe deur te sê: “… julle (sal) soos God wees …” (Gen 3:5). Dit is hierdie moontlikheid wat die vrou onweerstaanbaar vind … en haar die kritieke grens laat oorskry (Gen 3:6). Die verleidelike voorstelling blyk ’n illusie te wees, soos die rampspoedige gevolge bewys (Gen 3:7-24). En tóg bly hierdie leuen – dat die mens soos God kan wees – die groot versoeking waarvoor mense eeu na eeu swig.

Vir verdere lees: K Bouhuis en KA Deurloo 1967. Dichter by Genesis. Baarn: Ten Have. A van Selms 1973. Genesis, Deel I. Nijkerk: Callenbach.

Sidebar