BOOTH, CATHERINE

 

BOOTH, CATHERINE (1828–1890) se pa was ’n koetsbouer en leke-prediker. Haar ma was ook ’n diep godsdienstige vrou. Catherine het die Bybel* op ’n vroeë ouderdom reeds ’n paar keer deurgelees. Sy het vroeg al ’n sterk sosiale bewussyn ontwikkel. Tydens ’n siekbed as 14-jarige, skryf sy vir ’n tydskrif artikels teen alkoholmisbruik. Die gesin trek later na Londen waar hulle lidmate van die Wesleyaanse Metodistekerk in Brixton was.

Catherine trou in 1855 met William Booth, ’n evangelis en later stigter van die Heilsleër*. Die egpaar het agt kinders gehad wat almal aktief in die Heilsleër was.

Catherine was ’n kampvegter vir sosiale geregtigheid. In 1885 het sy aan ’n veldtog deelgeneem om strafregtelike wetgewing goedgekeur te kry wat jong dogters sou beskerm. Sy het haar ook vir beter werks­omstandighede vir vroue beywer, en die deur vir vroue-predikers oopgemaak. Sy skryf ’n kragtige stuk oor Female Ministry in 1859. Ná aanvanklike teenkan­ting van haar man, begin sy self in 1860 in die Gateshead Bethesda Chapel preek. Cathe­rine het ’n sterk evangeliese aanslag (Kyk by: Spiritualiteitsmodelle) gehad en word vandag nog onthou as ’n “soul winner”. Sy het ook ’n leidende rol in die Heilsleër gespeel.                     EP Büchner

Sidebar