BORCHARDT, CARL FREDERICK AUGUST

BORCHARDT, CARL FREDERICK AUGUST (1934–1998) ontvang sy skoolop­leiding aan die Afrikaanse Hoërskool van Germiston waarna hy hom as student aan die Universiteit van Pretoria ingeskryf het om hom as predikant te bekwaam. Hy behaal BA, BD en MA. Borchardt vertrek hierna na Nederland vir verdere studie in die kerkgeskiedenis*. Hy behaal in 1966 sy doktorsgraad met ’n proefskrif oor Hilarius van Poitiers* onder die leiding van JN Bakhuizen van den Brink. Hy keer na Suid-Afrika terug waar hy enkele NG gemeentes as predikant bedien. In 1970 word hy senior lektor in die kerkgeskiedenis by Unisa, en in 1976 is hy as professor by die Universiteit van Pretoria aangestel. Vanaf 1990 tree hy as departementshoof op. Sy bydrae tot die vak kerkge­skiedenis lê veral op die terrein van die Vroeë Kerk*. Saam met prof WS Vorster is hy bekend vir sy aandeel aan die samestel­ling van die Suid-Afrikaanse teologiese bibliografie wat deur Unisa uitgegee is en waarvan daar sewe dele verskyn het (2006). Carl Borchardt was ’n mede-ondertekenaar van die Hervormingsdaggetuienis* van 1980 wat krities was oor die destydse staatsbeleid van apartheid en die NG Kerk* se houding daarteenoor en wat in die  samelewing van daardie dae ’n besondere impak gehad het.

Sidebar