BORCHERDS, MEENT

BORCHERDS, MEENT (1762–1832) is in Oos-Friesland gebore waar hy teologie* aan die Universiteit van Groningen en in Lingen, Duitsland, bestudeer het. Hy is deur die Klassis (ring*) van Amsterdam na die Kaap gestuur waar hy in 1785 aange­kom het. Ná ’n kort dienstyd in die ge­meente* Kaapstad is hy ’n jaar later op eie versoek vanweë gesondheidsredes na die Stellenbosch-gemeente oorgeplaas. Hy het dié gemeente vir 44 jaar bedien. Hy en Abraham Faure* was die dryfkrag agter die eerste sinode* van 1824, waar hy as skriba verkies is en waartydens hy as oudste predikant van die Kaapse Kerk* die sitting geopen het. Hy is twee jaar later tot tweede moderator* (voorsitter) ver­­kies. Hy was lank krities ­oor sending*werk onder die Khoe­khoen* en slawe.

Borcherds se veelsydigheid het onder meer geblyk uit sy geleent­heids- en godsdienstige gedigte. Sy “De Maan, een Leer­dicht” (1802) en van sy ander vroeër gedigte was van die eerste gedrukte plaas­like lite­rêre werke. Daar bestaan ook twee musiekmanuskripte in sy handskrif.

Sy pastorie was die Kaaps-Hollandse huis bekend as La Gratitude. Die gewel met ’n simboliese uitbeelding van die Alsiende Oog van God kan waarskynlik gedeeltelik toegeskryf word aan sy betrokkenheid by die Vrymesselaars*. Hy het later die erenaam van “Vader Borcherds” gekry en is ná sy dood saam met sy eggenote in dieselfde graf­kelder by die Moederkerk op Stellen­bosch begrawe.

Vir verdere lees: WJ de Kock en DW Krüger 19862. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 1. Pretoria. RGN. PB van der Watt 1976. Karakters uit ons kerklike verlede. Pretoria: NGKB.

Sidebar