BORG

BORG is ’n regsterm wat die versekering teen enige skade of verlies aandui of selfs ook die persoon wat daarvoor instaan of die waarborg gee dat ’n testament of oor­een­koms uitgevoer sal word. In laasgenoemde sin van die woord het hierdie term ook ’n plek in die klassieke dogmatiek* gevind. Jesus* Christus* is hiervolgens sowel die Borg as die Middelaar* van die nuwe (Heb 9:15; 12:24) of beter verbond* (Heb 7:22; 8:6). Hy is met ander woorde nie net die basis van die verbond van God met die mens nie, maar ook die vervulling daarvan. Daarom word onderskei tussen die verbond van verlossing* (pactum salutis) en die verbond van genade* (foedus gratiae). Eersgenoemde is ’n saak in God sélf (tussen God en God) en laasgenoemde weer ’n saak in die geskiedenis (tussen God en mens). Daarom is daar effektief net die één genade- en trouverbond van God met die sondaarmens. Dit is die testament wat God vir ons in Christus gee en is nooit los van die mensgeworde Woord* te verstaan nie – ook nie in die Ou Testament* nie. Heb 7:22 wil dus oordra dat Christus self die waarborg is vir die begin én die voltooiing van die verlossing.

 

Sidebar