BOSE

BOSE. Die term “die Bose” kom tien maal in die Nuwe Testament* voor, naamlik by Matteus/Mattheus*, Johannes* en Paulus*. Dit is egter nie so maklik om vas te stel of daarmee die duiwel* as persoonlike teenstander van God en verleier van die mense bedoel word, of eerder die onpersoonlike mag wat van die duiwel en die koninkryk van die duisternis uitgaan nie. Die twee moontlikhede hoef mekaar egter nie uit te sluit nie. Dit word redelik algemeen aanvaar dat daarmee na die persoon van die duiwel verwys word – vandaar die hoofletter in die 1983-Bybelvertaling. Dit sluit egter ongetwyfeld ook sy bose werk in van die versoeking en verleiding van mense tot sonde*. (Kyk ook by: Kwaad [Die Bose].)

Sidebar