BOSHOFF, CAREL WILLEM HENDRIK

BOSHOFF, CAREL WILLEM HENDRIK (1927–2011) het as sendeling*, teoloog en kultuurleier ’n groot rol in die kerk en die Afrikaner*-gemeenskap gespeel. Hy was een van ’n groep jong NG Kerk*-predikante wat in die laat 1950’s, toe die Tomlinsonverslag* gepubliseer is (waarin die groot onbereikte sendinggebiede van Suid-Afrika onder die aandag gekom het), sy gemeente, Belfast, verlaat het om in die destydse Oos-Transvaal by Meetse-a-Bophelo met sendingwerk te begin. In 1963 is hy as sendingsekretaris van die NG Kerk* in Suid-Transvaal beroep, en in 1967 as dosent in godsdiens- en sendingwetenskap* aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit van Pretoria. Heelwat publikasies het van sy hand verskyn: oor die NG Kerk se sendingbeleid en sendingmetodiek, oor tendense in die samelewing, oor die opkoms van swart teologie*. Op kultuurgebied het hy op baie terreine – onder andere as hoofleier van die Voortrek­kerbeweging en voorsitter van die Afrikaner-Broederbond*– sterk leiding gegee. Toe hy in 1988 as professor afgetree het, het hy na die Orania-nedersetting, langs die Oranje­rivier, verhuis waar hy jare lank ’n leiersrol vervul het, oortuig daarvan dat afsonderlike volkstate uiteindelik tot die voordeel van almal in die land, bepaaldelik ook die Afrikaners*, sal wees. Hy was met Anna Verwoerd, dogter van die eertydse premier dr HF Verwoerd*, getroud, wat ook op haar beurt diep spore in die openbare en kul­tuurlewe getrap het. Boshoff is op 16 Maart 2011 oorlede.           PGJ Meiring

Vir verdere lees: Carel Boshoff 2012. Dis nou ek.’n Outobiografie Pretoria: Lapa-uitgewers. (Gepubliseer ná Boshoff se dood.)

 

 

Sidebar