BOTES, ELLA

BOTES, ELLA (BOTIE VAN MAGWERO). (?–1971) Kort nadat die eerste NG Kerk*-sendelinge* in 1899 met hulle werk in Noord-Rhodesië (tans Zambië) begin het, het die behoefte aan onderwys vir die plaaslike bevolking duidelik geblyk. Een van die eerste onderwyseresse wat deur die Oranje-Vrouesendingbond vir dié doel ge­werf is, was mej E Botes. Met haar aankoms in die land (1912) is sy na die sendingstasie Madzimoyo gestuur. Onder haar leerlinge was ’n paar blindes, en om hulle te help het Botes Braille-skrif aangeleer. In 1918 is sy as hoof van die Normaalskool op Madzimoyo aangestel. In 1924 het die Vrystaatse sen­ding besluit om ’n skool vir blindes op te rig, met Botes as hoof. Ses jaar later is die skool na Magwero verskuif, waar Botes as hoof van die stasie én die skool aangestel is. In 1936 was sy medeverantwoordelik vir die oprigting van die Môrelig-Kinderhuis én ’n skool vir dowes op Magwero. Haar baanbrekerswerk op Magwero het haar die erenaam “Botie van Magwero” besorg. Talle instansies het erkenning aan haar werk gegee: ’n MBE (Member of the British Empi­re)-toekenning, ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en die RW Bowen-medalje van die SA Nasionale Raad vir Blindes.

Sidebar