BOTHA, ELIZE

BOTHA, ELIZE (1931–2007) was ’n vrou van eerstes: een van die eerste vroulike professore in die Afrikaanse letter­kun­de, die eerste vroulike voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die eerste vroulike direksielid van Naspers en die eerste vroulike kanselier van die Universiteit van Stellenbosch. Sy het as Elize Lindes op Krugers­dorp grootgeword, op Stel­lenbosch haar mees­ters­graad behaal en haar doktorsgraad in Amster­dam onder NP van Wyk Louw*. Daarna het sy ’n tyd lank by Die Burger gewerk, en jare lank aan die universiteite van Pretoria en Unisa letterkunde doseer. Sy het haar laat ken as ’n literêre kritikus van formaat wat op ’n positiewe, stimulerende en opbouende manier met die Afrikaanse letterkunde omgegaan het. In 1990 het ’n huldigingsbundel vir haar verskyn, Lewe met woorde. Sy het in 1999 op uitnodiging ’n belangrike toespraak voor die NG Kerk* se Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland gele­wer en aangedui hoe die godsdiens soos ’n goue draad in die Afrikaanse letterkunde aanwesig is – ook daar waar kerklui dit voorheen misken het, soos in Etienne Leroux* se werk.

Botha het die Orde vir Voortreflike Diens (silwer) in 1989 ontvang asook eredoktorsgrade van Pretoria en Stellenbosch.

 

Sidebar