BOTHA, LOUIS

BOTHA, LOUIS (1862–1919) het as kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaan­sche Republiek (ZAR) en as militêre strateeg tydens die Anglo-Boereoorlog* (1899–1902) hoë aansien onder vriend en vyand verwerf. Dit is versterk deur sy aandeel in die vredesonderhandelings van 1902. Met die toekenning van verant­woor­delike regering is genl Botha in 1907 tot eerste mi­nister van die ZAR ver­kies. Klaarblyklik vanweë sy ideaal van konsiliasie tussen Afrikaans- en Engelssprekendes, asook politieke steun onder beide taalgroepe, is Bo­tha in 1910 deur goewer­neur­-generaal Gladstone as die eerste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika aangewys.

Die toepassing van Botha se konsiliasiebeleid en die Unieregering se toetrede tot die Eerste Wêreldoorlog* (1914–1918) aan die kant van Brittanje teen Duitsland, het tot ’n groot verlies van steun onder baie Afrikaners* gelei wat hulle alterna­tie­we politieke tuiste in genl JBM Hertzog* se Nasionale Party gevind het. Botha was as politieke idealis sy tyd vooruit en het die vermoë van ’n deel van die Afrikaners oorskat om die gebeure van die Anglo-Boereoor­log so gou te vergewe en te vergeet. Botha is kort ná die vredesonderhandelings by Versailles as ’n verslae, depressiewe Boe­re­leier oorlede. Botha en sy gesin was getroue kerkgangers – onder andere in Bosmanstraat se kerk in Pretoria. (Kyk ook: Steyn­berg, Coert.) Die prominente standbeeld van Botha voor die parlementsgebou in Kaapstad het mettertyd in die demokratiese Suid-Afrika omstrede geword.

Vir verdere lees: FV Engelen­burg 1929. Generaal Louis Botha. Pretoria. Bill Nasson 1999. The South African War, 1899–1902. Londen: Arnold.

 

Sidebar