BOTHA, PIETER WILLEM (PW)

BOTHA, PIETER WILLEM (PW) (1916–2006) is op die plaas Telegraaf in die Paul Roux-distrik gebore. Hy het op jeugdige ouderdom sy studies aan die Grey-Universiteitskollege (later die Universiteit van die Vrystaat) gestaak toe hy deur dr DF Malan* as politieke organiseerder van die Nasionale Party aangestel is. Hy is die langsdienende volksraadslid (parlements­lid) in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en het die George-kiesafdeling vir 36 jaar verteenwoordig. Hy het as minister van verdediging (1964–1978) die opbou van ’n sterk weermag en wapenbedryf gelei. As eerste minister (1978–1984) en staatspresident (1984–1989) sou staatsveiligheid ’n integrale rol in sy beleid speel met die verdedigingsbegroting wat twintigvoudig vergroot is. Onder die dekmantel van staatsveiligheid en noodtoestande het in sy regeertyd ernstige vergrype plaasgevind.

Van Botha se belangrikste hervormings en veranderings was die grondwet van 1983 met ’n vorm van magsdeling met die bruin- en Indiër-bevolkings in die driekamerparlement, maar die uitsluiting van stedelike swartes het ingrypende gevolge gehad wat tot ernstige kritiek gelei het. Onder Botha se bewind is apartheid* allengs afgetakel: die passtelsel is afgeskaf, politieke gevangenes is vrygelaat, eiendomsreg vir stedelike swartes is ingestel en instromingsbeheer is afgeskaf, benewens ooreenkomste met die regerings van Zambië (1982) en Mosambiek (1984). In Julie 1989 het Botha ’n geheime ontmoeting met Nelson Mandela*, toe nog in die gevangenis, gehad. Hy kon egter nie beweeg word om Mandela onvoorwaardelik vry te laat nie.

Botha het gereeld in die openbaar sy verbintenis aan die Chris­telike* geloof* bely en was daarvan oortuig dat sy stryd teen die kommunisme* uit ’n Christelike oogpunt gereg­verdig was.

In sy aftreejare het Botha godsdienstig ernstiger geword en in een van die min onderhoude wat hy in dié tyd toegestaan het, onder meer gesê: “Ek glo in die drie-enige God. Ek glo in my Verlosser, Jesus Christus, wat gelewe en wat gesterf het sodat ons kan lewe … Ek wil in my graf gaan en voor my Meester staan as iemand wat nie omgedraai het op my ouers en op wat heilig in my volk se lewe is nie” (Die Kerkbode, 18 Mei 2001).

Sidebar