BOUWER, ALBERTA MAGDELENA (ALBA)

BOUWER, ALBERTA MAGDELENA (ALBA) (1920–2003) is in die Vredefort-distrik gebore. Sy het vroeg as tydskrifjoernalis begin werk en bundel later verhale uit haar jeug in Stories van Rivierplaas (1955) en Nuwe stories van Rivierplaas (1956). Die uitbeelding van die psige van die kind bereik hierin ’n hoogtepunt in Afrikaans*. Alie, ’n klassieke kindergestalte, ontdek ander mense van ras en kleur as “ewemense”. Nog agt kinderboeke volg waarvan Abdoltjie (1958) ’n voorbeeld van die fyn verhouding tussen fantasie en werklikheid is, terwyl Stories van Bergplaas (1963) op ’n verras­sende manier die kind se waarnemings verbeeld. Haar laaste werk, ’n roman, Die afdraand van die dag is kil (1992), handel oor die laaste lewenstog van twee be­jaar­des, wat ’n sterwensbegeleiding word met die seker wete dat ’n geluksalige lewe aan die ander kant wag. Onder die pseudo­niem Magriet Coetzee skryf sy twee gebedeboeke gerig op die vrou. Vir haar bydrae tot jeug­lektuur is sy bekroon met die Scheepers­prys en die CP Hoogenhout-toekenning. ’n Jeugboekprys is na haar vernoem. Sy het jare lank in die hoofbestuur van die ACVV* gedien.

Sidebar