BRAND, GERRIT

BRAND, GERRIT (1970–2013) is een van min Suid-Afrikaners wie se proefskrif, Speaking of a Fabulous Ghost: In Search of Theolo­gical Criteria, with Special Reference to the Debate on Salvation in African Christian Theology, in die buiteland gepubliseer is (deur Peter Lang, Frankfurt). Brand het daarmee sy DTh in 2002 cum laude aan die Universiteit van Utrecht verwerf. Die Duitse teoloog Christoph Schwöbel meen in Ars Disputandi dat dié werk ’n unieke bydrae lewer om ’n brug te span tussen bepaalde denkbeelde in die moderne Westerse teologie en die Afrika-Christelike teologie. Volgens Brand kan die Westerse teologie sigself net relativeer deur met nie-Westerse teologieë in gesprek te tree. “Blanke” teologie moet ook gekonfronteer word met “the black experience”. Brand het aan die Universiteit van Pretoria teologie en filosofie studeer, en was ’n ruk jeug-en-sendingwerker by die NG gemeente Deo Gloria in Johannesburg voordat hy vir verdere studie na Nederland is. Hy het op Stellenbosch onder meer politieke en Afrika-filosofie doseer voordat hy vroeg in 2005 by die redaksie van Die Burger as boekeredakteur aangesluit het. In 2010 het hy dosent in dogmatologie* aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch, geword. Hy is op 6 Maart  2013 op 42-jarige ouderdom oorlede nadat breinkanker vroeër by hom gediagnoseer is.

By sy begrafnisdiens het die dekaan van die Teologiese Fakulteit, prof Nico Koopman*, onder meer gesê: “Gerrit Brand het ’n saak sag beredeneer. Hy het sag met mense omgegaan. Sy soeke na vryheid het hy op ’n sagte manier gedoen. Sy lewensreis word gekenmerk deur sagtheid, deernis, toegewydheid en die soeke na die waarheid. Hy was nooit akademies arrogant nie. Sy intellek was dienend en motiverend. Hy was ’n vervulde mens. Gerrit Brand was te kort by ons.” Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir opkomende skrywers van Christelike en teologiese werke in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, is in 2014 onder die sambreel van die Andrew Murray-prys*fonds onder meer ter herinnering aan Brand se lewe en werk ingestel.

Vir verdere lees: Willem de Vries en Robert Vosloos (reds) 2014. Godverlanger. ’n Huldigingsbundel vir Gerrit Brand. Stellenbosch: Sun Press.

 

Sidebar