BRAND, HERBERT JACOBUS DANIËL (HERBIE)

BRAND, HERBERT JACOBUS DANIËL (HERBIE) (1941–2017) het in Kaapstad opgegroei. Voordat hy sy teologiese studie op Stellenbosch voltooi het, het hy tydens die redakteurskap van dr WJG Lubbe* as joernalistieke assistent by Die Kerkbode gewerk en ’n eie rubriek behartig, “Van kerklike kant”. Daarin het hy skerp en altyd sterk behoudend oor allerlei sake van die dag geskryf – en meermale beroerings veroorsaak. Hy het sy studie op Stellenbosch voltooi, en predikant van Kamieskroon en St Stephen’s* in Kaapstad geword – laasgenoemde, “gemeente vir vrygestelde slawe”, was lank die enigste “bruin” gemeente in die NG Kerk*. Brand het mettertyd ’n totale politieke gesindheidsverandering ondergaan en het in die jare van die struggle met sy bakkebaard, wit das en kruis om die nek ’n bekende voorloper in optogte geword. Hy het kerklike vergaderings besig gehou met talle goeduitgewerkte mosies waarin hy die apartheidsbeleid* in kerk* en staat* en die destydse Grensoorlog gekritiseer en bevraagteken het. Hoewel nie ’n vlot spre­ker nie, het Brand sy saak male sonder tal in sinodevergaderings gestel. Die sinodegangers was dikwels kriewelrig, maar moes noodgedwonge na hom luister. Met die veranderings wat in die 1990’s in Suid-Afrika gekom het, het dit geblyk dat Brand se betoë dikwels geregverdig was. Die laaste sinode* wat hy as predikant* bygewoon het, die Wes-en-Suid-Kaapse sinode van 1999, het dit erken met staande applous vir Brand. Sy vroeëre ommekeer in sy siening van samelewingkwessies het nie beteken dat hy oor alle sake anders as voorheen geoordeel het nie – teologies het hy baie behou­dend gebly.

Sidebar