BREEDT, JOHANNES MARTHINUS NICOLAAS

BREEDT, JOHANNES MARTHINUS NICOLAAS (1881–1958), ’n plaasseun van Dewetsdorp, het sy pa se skape opgepas en dikwels vir hulle gepreek. Uiteindelik het hy by Grey-Kollege in Bloemfontein skoolgegaan en daarna met studie in die regte begin. In sy tweede studiejaar het die Anglo-Boereoorlog* uitgebreek en het hy by ’n Vrystaatse kommando aangesluit. Hy is twee keer gewond, maar het merkwaardig herstel. Hy is later gevang en na Indië gestuur. Ná die oorlog was hy ’n rukkie onderwyser en is toe na die Sen­dinginstituut* op Wellington om as sende­ling* opgelei te word. Hy het eers op Keimoes gewerk totdat hy sy eerste beroep in 1906 na Britstown aangeneem het. Hy is in 1919 na Hanover en in 1922 na Wellington waar hy vir byna ’n kwarteeu werksaam was. ’n Hele aantal skoolgeboue is daar deur hom opgerig.

In 1924 word hy gekies as moderator* van die sinode* van die NG Sendingkerk*, soos ook by die sinodesittings van 1928, 1932, 1937 en 1942. Breedt was die eerste redakteur van Die Ligdraer*, wat in 1940 die eerste keer verskyn het. Hy het ook ’n belangrike bydrae gelewer tot die stig­ting van die teologiese skool van die NG Sendingkerk op Wel­lington waarvan hy die eerste dosent en hoof was.

Vanweë sy kennis van die bruinbevol­king is hy in 1957 deur die des­tydse regering tot senator in die par­le­ment be­noem om die belange van die Kaapse bruinmense te behartig. In dieselfde jaar het die Universiteit van Stellen­bosch ’n eredoktorsgraad aan hom toege­ken.

 

 

Sidebar