BRIEF

BRIEF. Die brief as kommunikasiemiddel soos ons dit in die Bybel* aantref, het ’n lang geskiedenis. Aanvanklik is dit net in amptelike skrywes gebruik. 1 Kon 21:8-10 berig van sulke briewe wat koningin Isebel* uitgestuur het. In die boek Esra* verskyn verskeie amptelike skrywes. Mettertyd het briewe egter gepopulariseer geraak en in die tyd van die Nuwe Testament* was dit reeds algemeen gebruiklik – soos blyk uit die massa papirusbriewe (Kyk by: Skryfgoed) uit Egipte*.

In die Nuwe Testament speel briewe ’n sleutelrol. As Hebreërs* en 1 Johannes* bygetel word, is 21 van die 27 Nuwe-Testamentiese ge­skrifte briewe. Verder verskyn daar ook nog klei­ner briewe in Hande­linge* en Openbaring*. Vir die leiers van die Vroeë Kerk* was die brief­vorm ideaal om as ’t ware by die jong, ontluikende Christengemeentes huisbesoek te doen. Die direkte aanspreekvorm, so eie aan briewe, het aan hier­die dokumente ’n gesprekskwa­liteit verleen wat geloofswaar­hede, bemoediging en vermanings persoonlik en op die man af kon kommunikeer. Voorlesing in die erediens* (Kol 4:16) het hierdie persoonlike aanspreke verder beklemtoon.

Wat hulle vorm betref, sluit die Nuwe-Testamentiese brie­we sterk aan by die destydse Griekse briefvorm. Tog “verchristelik” die Nuwe-Testa­mentiese briefskrywers dit in verskillende opsigte. So vervang Paulus* die afgesaagde Griekse groet met ’n sprankelnuwe genade­toesegging, en voeg hy ook die oorspronklike Joodse vredesgroet by. In plaas van die gebruiklike “vaarwel” sluit hy af met ’n inhoudryke seënwens: “Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees” (Fil 4:23).

Die outeurs van die Nuwe-Tes­ta­mentiese briewe het opgeleide skry­wers gebruik om hulle diktaat neer te skryf. Ons ken twee van hulle selfs by die naam: Tertius* en Silvanus (Rom 16:22; 1 Pet 5:12). Amptelike briewe is verbasend vinnig langs die Romeinse posroetes vervoer, maar privaatpersone was afhanklik van ’n geskikte geleentheid. So het Febe* waarskynlik die Romeine*brief na Rome* saamgeneem (Rom 16:1-2).

Sidebar