BRINK, ANDRÉ PHILIPPUS

BRINK, ANDRÉ PHILIPPUS (1935–2015) is op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy studeer op Potchefstroom en in Parys, is as Sestiger ’n voorloper in die vernuwing van die Afrikaanse romankuns, en word een van die mees aktiewe romanskrywers in Afrikaans. ’n Groot deel van sy skeppende werk kan as politieke versetsli­teratuur gerig teen maatskaplike ongeregtigheid beskou word, met as ’n hoogtepunt Kennis van die aand wat ’n tyd lank in Suid-Afrika verbied was. Sy latere werk konsentreer meer op die figuur van die ouer-wordende man wat sy psige en sy verlede opnuut teleskopeer, maar ’n “slaweroman” soos Philida, wat hy as 77-jarige skryf, fokus (opnuut) op die onreg van die vroeë Kaapse slawerny. Brink geniet wêreldwye erkenning as skrywer, en van sy werke is in meer as 30 tale vertaal. Die godsdiens speel nie as sodanig ’n beduidende rol in sy werk nie – hy erken ook in sy memoir ’n Vurk in die pad dat hy nie ’n Christen is nie – maar indirek deur die sosiale bewussyn van onreg en die genadelose blootlê van die gruwels van die apartheids­beleid* , is dit tog aanwesig. In Bidsprinkaan word die Christelike sending* by implikasie gekritiseer. Brink was een van die allerbeste vakmanne in die skryf van Afrikaans*, en as stilis is hy moeilik om te oortref, selfs te ewenaar. Hy het die Hertzogprys vir drama vir Die jogger in 2000 gewen en dié vir prosa vir Donkermaan in 2001. In 1982 is hy ’n ridder van Frankryk se Legioen van Eer gemaak vir sy bydrae tot die Franse literatuur, en hy was by geleentheid genomineer vir die Nobelprys vir Letterkunde. Brink is op 6 Februarie 2015 op ’n vlug onderweg terug na Suid-Afrika oorlede nadat hy vroeër die week ’n eredoktorsgraad van die Franstalige Universiteit van Louvain in België ontvang het.

Sidebar